Maak asseblief gou, Here

Abraham en Sara het alles probeer om kinders te hê. Sy was reeds negentig jaar oud en hy amper 100. Hulle was waarskynlik al 75 jaar getroud en het reeds tot die gevolgtrekking gekom dat Sara onvrugbaar was en nooit kinders sou hê nie.

Om dinge nog erger te maak, selfs al was Sara nie onvrugbaar nie, was sy reeds verby haar vrugbaarheid jare en Abraham was ook reeds te oud (Genesis 18:11). Hulle het dus drie struikelblokke gehad: Abraham se ouderdom, Sara se ouderdom, Sara se onvrugbaarheid.

Ten spyte van al hierdie struikelblokke het God aan hulle ‘n belofte gemaak, en het Hy hulle ook voortdurend daaraan herinner, dat hulle baie afstammelinge sou hê. Abraham se geloof het hom egter begin verlaat (Genesis 17:17) en Sara se diensmeisie, Hagar wie reeds vir Ismael in die wêreld gebring het, het met haar die spot gedryf. Die vraag is nou: Waarom het die Here nog nie gedoen wat Hy belowe het nie, en hoekom stel Hy steeds uit?

Dit blyk dat daar nog onafgehandelde besigheid was: Abraham moes besny word. Alhoewel die besnydenis ‘n teken was van die verbond tussen God en Abraham, sou dit nog ‘n verdere betekenis hê – dat Abraham, simbolies gesproke, gewillig sou wees om sy eie vermoëns onder die mes te plaas. Jy sien, die probleem was dat hy steeds geglo het dat hy God sou kon uithelp deur Ismael te verwek. En wie weet hoeveel ander menslike planne sou hy nie nog probeer beraam het voordat hy sterwe nie?

God wou gevolglik gehad het dat hy gewillig moes wees om, simbolies gesproke, sy eie vermoëns af te sny. Gevolglik sou daar ‘n vierde struikelblok wees in hulle vermoë om kinders te hê. Hierdie was ook nie die enigste keer wat God vir Abraham sou vra om ‘n mes op te tel om ‘n einde te maak aan sy eie hoop en drome nie. ‘n Paar jaar later sou hy geroep word om die mes te neem om sy enigste seun op die altaar te offer (Genesis 22:10).

Hoekom het die Here hom nie vroeër reeds ‘n seun gegee nie? Hoekom het Hy so lank gewag om dit te doen wat Hy in elk geval beplan het om te doen? Dit is eenvoudig – God wou gehad het dat Abraham, en alle ander mense, seker sou wees dat die koms van Isak ‘n wonderwerk was. Almal moes weet dat dit die gevolg was van God se bo-natuurlike voorsiening en nie net maar ‘n natuurlike gevolg van Abraham se vermoëns nie. Die Here sou in die toekoms dieselfde doen.

God het gewag totdat Gideon se weermag tot net 300 man verminder het teenoor die Midianiete se 135 000 (Rigters 8:10)! God het die rede gegee hoekom hulle in so ‘n groot minderheid moes wees: “Die Here het vir Gideon gesê: "Ek kan Midian nie oorgee in die mag van soveel manne by jou nie. Israel sal teenoor My spog en sê: 'Ek het myself gered” (Rigters 7:2).

Jesus het dieselfde patroon ‘n paar keer herhaal: Hy het gewag totdat die laaste druppel wyn by die troue klaar was, voordat Hy water in wyn verander het (Johannes 2:3-9). Toe Hy gehoor het dat Lasarus siek was, het Hy nie net gewag totdat hy dood is nie, maar totdat hy reeds vir vier dae dood en begrawe was (Johannes 11:39). Toe die dissipels gaan visvang het, het Hy gewag totdat hulle die hele nag hard gewerk het en niks gevang het nie, voordat Hy vir hulle ‘n vangs in oorvloed gegee het (Lukas 5:5). Dit het meer as een keer gebeur dat Hy gewag dat die storm amper die dissipels se skippie laat sink het, voordat hy die wind stil gemaak het (Matteus 14:24-25; Markus 4:37).

Die beginsel bly dieselfde: Die Here wil hê ons moet ons swakheid en gevolglike afhanklikheid van Hom besef. As Hy ons gebede vroeër beantwoord dan sal ons óf die antwoord as deel van die natuurlike proses beskou - net soos Abraham en Sara sou doen indien hulle ‘n seun sou hê toe hulle nog jonger was - óf ons sal dink dat ons die probleem self reggemaak het. Wanneer dit gebeur dan roem ons in ons eie vermoëns, in plaas daarvan dat ons aan God die eer gee onder die besef dat alles wat ons het en alles wat ons bereik het, net die gevolg is van Sy genadige ingryping in ons lewens.

Abraham het nie van die proses van wag gehou nie, en nie een van ons doen enigsins beter nie. Baie keer raak ons sommer ongeduldig met God, soms met die gevoel dat Hy daarvan hou om ons te kasty deur ons heeltemal te lank te laat wag. Maar Hy vind nie vreugde in ons ongemak en ongeduld nie – Hy ken ons heeltemal te goed. Hy weet dat solank daar nog hoop is en ‘n menslike geleentheid, dan sal ons die eer vir onsself toeëien aangesien ons voel dat ons die saak op ons eie beredder het.

God sou nie nodig gehad het om altyd so lank te wag soos wat dikwels gebeur nie, as ons tog maar net ons onvermoë vroeër wou besef. Hoe vinniger ons ons vertroue in die vleeslike verloor, hoe vinniger kan Hy tussenbeide tree en die wonderwerke verrig wat Hy so graag wil doen en wat ons so desperaat nodig het.

Dit het Abraham amper agt jaar geneem om sy eie vermoëns en bronne uit te put. Dit het Moses veertig jaar in die wildernis geneem om sy vaardighede in die diplomatiek, politiek en redenaarskuns wat hy in Egipte geleer het, te verloor (Handelinge 7:22; Eksodus 4:10). Toe eers kon die Here hom gebruik om die kinders van Israel te verlos.

Die rede hoekom God uitstel, het niks met traagheid of onwilligheid om te hoor en te antwoord te doen nie. Dit is net omdat ons nog nie aan die einde van ons eie tou gekom het nie. Hoe sterker en meer begaafd ons is, hoe langer neem dit ons om te leer dat ons niks kan doen en dat Hy slegs kan werk as ons eenkant staan en Hom toelaat om alleen te werk. Jy sien, God het nie ons hulp nodig nie. Om die waarheid te sê, Hy kan nie werk, en sal ook nie werk, vir so lank as wat ons probeer om Hom te help nie. Ons beste pogings help God niks nie en is maar net in Sy pad. Kyk net wat het gebeur toe Abraham probeer het om God te help, en daarmee vir Ismael in die wêreld gebring het.

Got any rivers you think are un-crossable
Got any mountains you can't tunnel through
God specializes in things thought impossible
And does the things that others cannot do

Let go and let God have His wonderful way
Let go and let God have His way
Your sorrow will vanish
You night turned to day
Let go and let God have His way